Gawe en Opdrag

Sonja van der Linden, 1998 – Jaargang 1, Nr. 1

0101GawenOpdrag

Die kerkdiens is verby. Deur die paadjies skuifel die mense na buite. En as jy buite is, wat dan? Wat doen jy met al die mense om jou heen? Voel jy daar tussen soos ʼn vis in die water of soos ʼn vis op droë grond? Is dit benouend, bevrydend of maak dit geen verskil vir jou nie? Waarom het ek so begin?

Om jou te wys dat die gemeenskap van die heiliges ook vir jou raak.

Gemeenskap van die Heiliges? Kan mens dit wel sê? Dit is tog nie volmaak/perfek in die kerk nie? Waarom dan tog hierdie uitdrukking – wat die indruk gee dat alles wel pragtig verloop? ʼn Gemeenskap waarin almal hulle tuis voel, is dit baie keer nie – en heiliges is ons al heeltemal nie. Dit is baie keer eerder ʼn kleinsielige, benoude gebeurtenis in die Kerk. As dit dan nou nie so volmaak in die kerk (as gemeenskap van die heiliges) is nie, is dit dan nie tyd om iets daaraan te verander nie? Te verbeter nie? Miskien is dit tog wel nodig dat ons weer ʼn keer stil staan by die oorsprong en doel van die gemeenskap van die heiliges.

Opdrag?

Gemeenskap van die heiliges – dit klink amper vanself soos ʼn opdrag: iets wat jy moet doen. Gelukkig is dit nie waar nie. Die eerste is nie wat ons moet doen nie, maar wat God vir ons wou gedoen het. Aan die begin staan nie dat jy jou moet gee aan…., maar dat God Homself aan jou gegee het. As God ʼn bevel gee, gee Hy ook beloftes. As Hy ʼn opdrag gee, gee Hy ook gawes.

Nadink oor die gemeenskap van die heiliges begin dus deur na te dink oor die gemeenskap wat aan ons gegee is. Die gemeenskap met die Heilige, met God.

ʼn Heilige God – ʼn Gewende God

God se heiligheid roep by ons altyd iets van afstand op. Ons is sondaars – God is heilig. Maar tog wil die Here met ons kontak hê. Dit sien ons ook in die geskiedenis van Jesaja se roeping. Die Heilige God is juis ʼn God wat gemeenskap met ons soek. Jy mag selfs sê: dit is Sy heiligheid dat Hy met sondaars ʼn verhouding wil en kan hê. So is Hy ook vir jou!

In die paradys was die kontak/verhouding met God uitstekend. Maar dan loop dinge verkeerd. Die mens probeer die kontak met God ontduik. Maar ook hier toon die Here ons Sy Heiligheid: Hy gee ruimte vir ʼn nuwe herstelde verhouding. God belowe: dit word goed! Dit is tog ongelooflik! Hierdie God is onse God! So soek God kontak ook met jou!

Van nature is daar niks goeds in ons nie. God weet dat, as dit van ons afgehang het, dan sou daardie kontak met Hom nooit herstel word nie. Ons sou Hom eerder probeer ontduik. Ons wil nie lewensgemeenskap met God hê nie. Dit is veels te lastig! Daarom is dit so ongelooflik dat ons God na die sondeval na ons toe kom. Dat Hy steeds Sy verbond met ons in stand hou.

Deur na die sondeval nog steeds die verbond te handhaaf, laat God Hom allereers as ʼn Gewende God ken. En dit kom die duidelikste na vore in die gawe van Sy Seun. Soveel het Hy daarvoor oor om die verhouding met jou en my te herstel! Die Here gee ons so baie! Wie nadink oor die band tussen God en ons (verbond), moet wel eers aan ʼn gawe dink!

ʼn Nuwe Hart

En Ek sal julle ʼn nuwe hart gee en ʼn nuwe gees in jul binnenste; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ʼn hart van vlees gee.” (Eseg. 36:26)

Wat is so besonders aan hierdie nuwe hart? Nie alleen dat dit tot in ewigheid klop nie, maar juis dit: dat dit opsoek is na gemeenskap, na kontak. Hierdie hart is mos afkomstig van Hom wat nie slegs die dood oorwin het nie, maar ook die grootste eensaamheid? Die eensaamheid van die hel? Uit hierdie grootste eensaamheid van Christus word die grootste gemeenskap met God gebore! Hoe kry ons so ʼn nuwe hart? Deur die geloof wat die Heilige Gees in ons werk. Die Heilige Gees lê die verbinding tussen die Here Jesus en ons. Deur die verbinding stroom alle gawes van God na ons toe. Gawes wat ons hart verander en vernuwe.

Deur die geloof kry ons dus ʼn ander hart. Maar daar het ons die Heilige Gees voor nodig. Die Heilige Gees is dus ook ʼn gawe! Hy maak dat die nuwe hart oopstaan vir lewensgemeenskap met God en ons naaste. Sonder hierdie gemeenskap gaan jy dood. Dan sterf die nuwe hart.

Tog werk die nuwe hart nie sommer dadelik al volmaak nie! Dis `ʼn proses wat ons hele lewe in beslag neem.

En nou?

Die kerkdiens is verby. Jy sien die kerkmense. Maar bo hulle het jy God leer raaksien. Hy het die hemel oopgemaak. En dan kom daar so veel gawes na ons toe! Hy maak sy volk heilig.

As ek raaksien wat God alles gee, dan staan ek nie meer onverskillig teenoor die gemeenskap van die heiliges nie. Hy het soveel liefde in ons “geïnvesteer” – dit moet sigbaar word! God vra om ʼn antwoord op Sy liefde. So veel liefde maak ons nie negatief of afstandelik nie. Dit maak ons wel krities. God het die gemeenskap van die heiliges nie gegee omdat alles en almal so volmaak is nie, maar omdat dit volmaak sal word!

Nie een van ons is volmaak nie. Ons het baie liefde nodig – van God en van mekaar! Laat ons daarom saam probeer. God het die gemeenskap van die heiliges iets unieks gegee – hier word die liefde gevind. Hier is jy vry. Hier kan ek vir my ʼn plek vind met my eie moontlikhede. Hier vind ek ander met hulle moontlikhede. Daar gaan nog baie gebeur met die gemeenskap van die heiliges. Daarom is dit nie belangrik wat ek sien nie. Beslissend is wat ek glo. Ons bely tog: ek glo in die gemeenskap van die heiliges. Dit is ook ʼn gawe van God! Versterk hierdie geloof jou?

Dan bid jy saam met die Heilige Gees en saam met God se volk: “Kom Here Jesus, kom gou.” (Openb. 22:17)

Want dan is die gemeenskap van die heiliges volmaak. Dan sien jy wat jy nou reeds glo.

olieladmin

Leave a Reply

Your email address will not be published.