Kennis van jou ellende is die eerste stap na die ewige lewe

Ds. PG Boon (VGK Maranata), 2018-01-28 (verwerk vanaf: http://www.vgk.org.za/preke/25086)

Lees: 2 Konings 5, Heidelbergse Kategismus Sondag 2

Vraag en antwoord 3:

Waaruit ken jy jou ellende?

Uit die wet van God.

Die antwoord van hierdie vraag uit die Kategismus spreek boekdele. Dit is die eerste stap op weg na genesing. Sondag 1 maak vir ons die drie stappe duidelik deur die vraag: “Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe?”

  1. Ek moet weet hoe groot my sonde en ellende is.
  2. Naamlik om te ondersoek hoe ek van my sonde en ellende verlos kan word.
  3. Hoe ek God vir so ‘n verlossing dankbaar kan wees

As ek geen sondebesef het nie, kan ek nie by stap 2 uitkom nie.

Ek moet dus eers besef dat ek ellendig is. Die woordjie ellendig gebruik ons deesdae vir allerlei dinge. As die geyser gebreek het en die huis is vol water, vind ons dit ellendig. As ʼn kind sonder pa of ma op die strate in die binnestad swerf, is sy toestand een en al ellende. Maar die ellende van Sondag 2 gaan nog veel dieper. Ellende hier verwys daarna dat die mens op pad is na die ewige dood, en optree asof dit nie so is nie. Dit is soos iemand wat kanker het, maar dit nie wil weet nie. Hy gaan net aan asof hy blakend gesond is en redeneer dit heeltyd weg.

Jy ken heel moontlik die sprokie van die koning se nuwe klere. Hy het geen klere gedra nie, maar niemand het die moed gehad om dit uit te wys nie. Sommiges het hom selfs gekomplimenteer. Niemand, behalwe ‘n kind, het die moed gehad om die waarheid by die naam te noem nie. Dis presies hoe die mensheid is. Kollektief wil die samelewing nie weet dat hulle op pad is na die ewige dood nie. Niemand wil hoor dat ons grootste ellende ons rebellie teen die Skepper is nie.

Sondag 2 gaan egter oor ʼn eerlike en objektiewe diagnose oor die toestand waarin die mens homself bevind. God deurbreek in sy groot genade hierdie onderdrukking van die waarheid.

Hy hou aan om vir ons die wet soos ʼn spieël op te hou. Ons kan nou sien, met ons eie oë, wat ons toestand is. Hy laat ons sien dat ons nie onsself kan help nie, selfs nie die beste dokter of spesialis nie. Deur die erns van ons toestand so duidelik onder ons aandag te bring, help God ons, dat ons nie tyd mors met dinge, soos pleisters of kwaksalwers, wat geen verskil gaan maak nie.

Dis ʼn saak van lewe of dood. Ewige lewe of ewige dood.

Dus, die kennis van jou ellende is die eerste stap na die ewige lewe

In die teks lees ons die geskiedenis van Naäman, leërowerste van die koning van Aram, wat in ʼn ellendige toestand was – ondanks die feit dat hy ʼn hoë posisie beklee het en baie ryk was. Hy was melaats, ʼn ongeneeslike siekte.

Dikwels wanneer iemand gediagnoseer word met ʼn ongeneeslike siekte begin hul eers ernstig nadink oor die lewe en sy doel, en die realiteit van die dood. Dan word mense bereid om hulle vooroordele op te gee en na elke moontlikheid te gryp om gered te word. So was dit ook met Naäman. Hy was die leërowerste van die Arameërs, wat op daardie stadium in staat van oorlog met Israel verkeer het. Dis nie normaal om een van jou vyande se dokters te besoek nie, veral nie as jy bekend is nie. Maar as jou eie dokters jou nie kan genees nie? En die dood ongestoord nader kom? Toe word hy, Naäman, bereid om sy vooroordele in die wind te slaan. Hy was so desperaat dat hy waarde geheg het aan die opmerking van een van sy slavinne, ʼn Joodse meisie, geroof uit Israel. Hierdie meisie het getuig oor haar geloof in ʼn vreemde land.

Sy het getuig dat sy ʼn profeet ken van die ware God, wat in Israel is. Hy is ʼn man wat die mense altyd God se Woord voorhou, maak nie saak of dit goeie of slegte nuus is nie.

God het die profete gebruik om die spieël van sy wet aan sy verbondsvolk voor te hou. Alhoewel hulle sy uitverkore volk was, was ook hulle van nature totaal verdorwe, doodellendig. Al was hulle die verbondsvolk van die God van hemel en aarde, was hulle nie so besonders nie. Hulle was nie beter as die ander volke nie, en dieselfde het vir hulle koning gegeld. Dit sien ons ook in die gedeelte wat ons gelees het. Die koning van Aram het aan die koning van Israel ʼn brief saam Naäman gestuur, met ʼn klomp geskenke ingesluit. In dié brief het hy die koning van Israel, Joram, versoek om Naäman te verwys na die regte profeet, naamlik Elisa.

Maar die koning van die verbondsvolk se optrede was uiters teleurstellend. Hy het nie meer op God, wat mag het oor lewe en dood, vertrou nie. Hy het nie meer God se krag geken nie. Met die ware profete wou hierdie koning van Israel ook niks meer te make hê nie. Die ware profete is vervolg, en hulle moes baiekeer ondergronds hulle werk doen. Dit het vir Elia gegeld, en so ook vir sy opvolger Elisa. Joram, die koning, was die seun van Agab, en oor hom word vertel dat hy verkeerde dinge gedoen het. (1 Kon 3:2)

In elk geval, Joram was totaal oorbluf toe Naäman met sy brief by hom aankom. Sarkasties het hy uitgeroep toe hy die brief lees: “Is ek dan God, om dood en lewend te maak, dat hierdie man na my stuur om van ‘n man sy melaatsheid weg te neem?” (2 Kon 5:7).

Hierdie koning het nie meer die krag van die God van Israel geken nie.

Omdat koning Joram nie meer vertrou het op die krag van die Verbondsgod nie, en geen kontak meer met sy profete – die ware profete – gehad het nie, was sy antwoord aan Naäman negatief. Jammer, ons kan jou nie help nie.

Hoe is dit vandag? Ken ons as kerk nog die krag van God?

Sê nou maar iemand sou op ons deur klop, heeltemal radeloos, en om hulp vra, om genesing. Wat sê ons dan?

“Jammer, maar ons kan u nie help nie, ons is maar net mense.”

Die koning van Israel het nie meer die krag van God geken nie. Hy was agterdogtig, hy dink Naäman kom met ʼn voorwendsel, tien teen een is hy besig om te spioeneer. Pas maar op. Per slot van rekening is die Arameërs ons vyande!

Maar wat van ons? Sien ons in vreemde mense wat op ons afkom, in die eerste plek vyande? Of verwys ons hulle deur na die lewende God, omdat ons die krag van sy Evangelie ken?

Want, inderdaad, geen mens het mag oor lewe en dood nie, daarin was die koning reg. Maar die koning moes meer gesê het! Want dit was juis aan sy volk wat die lewende God Homself openbaar het!

En dit het die koning verswyg. Hy het nie Naäman verwys na die Een wat wel hom kon help nie.

Gelukkig het die lewende God dit so gelei dat die berig Elisa se ore bereik het. En, soos God van elke ware profeet verwag, het Elisa nie teruggedeins om vir die koning die voor te hou nie. God het dit so gelei, van die vae opmerking van die Joodse slavin tot by sy profeet. So gebeur dit dan dat Naäman met hooggespanne verwagting, met sy wa en hele gevolg, voor Elisa se huis stilgehou het. Uiteindelik. Naäman se liggaam was toe al bedek deur melaatsheid.

Desperate mense is gouer bereid om hulle vooroordele te laat vaar en elke grashalm aangryp. So kan dit vandag ook gebeur dat iemand, wat normaalweg nie in God en sy kerk belangstel nie, uit desperaatheid die Bybel sal oopslaan, of ʼn Christelike boek koop, of met ʼn dominee kontak probeer maak. En dan sit die persoon daar met hooggespanne verwagtings.

So het Naäman by die profeet aangekom. Hy het gewonder wat die profeet met hom sou doen. Sal hy vriendelik wees, vanweë Naäman se hoë posisie? Hy sal seker dadelik buitentoe kom, baie empaties en meegevoelig wees, gesien die ongeneeslike siekte. Hy sal natuurlik die Naam van die HERE, sy God aanroep. En dan sal hy seker met sy hand oor die wonde vryf om die melaatsheid weg te neem.

So het Naäman hoë verwagtings gehad.

Maar wat daarna gebeur het, was vir Naäman ʼn antiklimaks. Elisa het nie eers buitentoe gekom nie. Hy het maar net sy bode gestuur, met ʼn boodskap: Gaan was jou sewe maal in die Jordaan, dan sal jou liggaam weer gesond word en sal jy rein wees. Dis al. ʼn Antiklimaks, na die lang reis. En die Jordaan was niks in vergelyking met die groot riviere van sy eie land, die Abana en Farpar nie. As die profeet dink hy moet ʼn bad vat, doen hy dit liewers by die huis.

Op hierdie punt wil ek wys op die verband tussen hierdie geskiedenis en Sondag 2. Soos ek in die inleiding genoem het, gebruik ons die woord ellende vir verskillende dinge. Die dinge is nie alles ewe erg nie. Maar die diepste ellende, waaruit alle ander ellende tog uiteindelik voortkom, dit is waarvoor die wet van God ons oë wil oopmaak.

Wil die mens sy oë oopmaak? ‘n Groot aantal mense wil nie meer die wet van God hoor nie. Hulle vind dit ouderwets en negatief. Om by voorbaat daarvan uit te gaan dat hy ʼn sondaar is en verkeerde dinge gaan doen is nie opgewek nie. Selfs in die kerk sien mens hierdie neiging. Is dit regtig nodig om elke Sondag na die tien gebooie te luister? Die Bybel is soms so negatief oor die mens, moet dit nie bietjie afgeswak word nie?

Die ding is net, besef u dat as mens dit doen, dat mens dan ook die pad na uitredding onbereikbaar maak? Die weg na ons enigste troos in lewe en sterwe. Want kennis van jou ellende is die eerste stap op weg na herstel.

Die wete dat ons nie onsself kan red nie. Die wete dat indien ons aan onsself behoort ons onsself in die ellende stort. Maar as ons aan Christus behoort, as ons sy eiendom is en nie ons eie nie, is daar wel ʼn toekoms. As jy nie wil weet dat jy kanker het nie, en daardeur vorme van behandeling wat die kanker kan wegneem, misloop, kan die dodelike siekte maak net wat hy wil in jou liggaam.

Dit kom op die volgende neer: is jy bereid om na God te luister? Na sy objektiewe diagnose?

Of onderdruk jy die waarheid deur jou angste, of jou hoogmoed?

Dit was presies wat Naäman se grootste probleem was, nie dat hy melaats was nie, maar dat hy sy eie vooroordele nie wou laat vaar nie. Hy was desperaat oral op soek na genesing, maar die enigste weg na herstel het hy self toegestop. Die Jordaan? Ag nee, daardie klein riviertjie kan niks vir my beteken nie. Ten spyte van die lang reis, wou hy nie na God se profeet luister nie.

Hierdie het nie net vir Naäman, die buitelander, gegeld nie, maar presies dieselfde het ook vir die koning van Israel gegeld. Hy het ook ‘n vooroordeel gehad wat die weg na genesing geblokkeer het. Hy het nie meer die krag van God geken nie.

Dit het selfs vir Gehasi, Elisa se dienskneg gegeld.

Wie die Here se wet na die agtergrond dring, ontspoor maklik. Die pad is smal. Die koning van Israel en Gehasi het uit eie belang gehandel. Die kern van die wet, dat jy die HERE jou God moet liefhê en jou naaste soos jouself, het nie hulle optrede aangestuur nie. Nee, slegs selfgesentreerde, egoïstiese motiewe.

Is jy bereid om na die lewende God te luister? Na sy wet? Of stel jy as mens eers al jou eise? Naäman wou nie luister na sy Skepper nie. Die opdragte wat Elisa gegee het, het nie in sy straatjie gepas nie. Moet ek myself regtig sewe keer in die Jordaan gaan was? Kom nou tog! Dis mos bespotlik.

So gaan dit vandag nogsteeds.

Moet ek elke Sondag na die tien gebooie luister? Kom nou tog!

Moet ek elke Sondag twee keer ten minste ʼn uur in die kerk gaan sit? Kom nou tog!

Vandag is daar baie mense wat redeneer soos Naäman. Selfs ons voel die tydsgees se aantrekkingskrag. Is jy bereid om te doen wat jou Skepper jou opdra? Dis waaroor dit gaan. Dat jy bereid is om jou vooroordele te los, en die pad in te slaan wat God wys na die lewe.

Al was Naäman desperaat weens sy siekte, was hy as’t ware al weer terug op pad rigting Damaskus, geïrriteer deur die dwase advies van die profeet. Hy het geen vertroue daarin gehad nie. Was dit nie vir sy dienaars nie sou hy nooit genesing ontvang het nie. Hulle aangehou: kom ons probeer ten minste, ons moes in elk geval so ver gery het!

So gebeur dit vandag nog steeds.

Desperaat deur ʼn ongeneeslike siekte, gryp mense uiteindelik na die Bybel. Hulle het weinig vertroue daarin, dat dit enigsins sal help, hulle dink dis eintlik absurd. En so begin hulle die Bybel te lees, skepties. Maar so sien mens ook hoe die Heilige Gees besig was met Naäman. Ja, God was al lankal met hom besig. En die grootste genesing was nie toe hy uiteindelik uit die Jordaan opgeklim het met ʼn nuwe gladde vel sonder enige melaatsheid nie, die grootste genesing was toe die Heilige Gees sy wil, wat dwarsgetrek het, omgebuig het. Die Gees het sy dienaars gebruik om die laaste vooroordele en verset uit die weg te ruim.

Ons sien vandag ook hoe die Gees stelselmatig alle vooroordele by mense afbreek totdat hulle uiteindelik die Bybel oopmaak en bereid is om kerk toe te kom. Laat ons bid dat die Heilige Gees voortgaan om so te werk, ook onder ons. Want as dit van ons afhang raak ons al te gou skepties oor die Bybel en wat daarin staan.  Laat ons die Gees bid vir die gawe van volharding. Dat ons aanhou op die pad na die lewe, wat God ons wys, al is dit ʼn smal pad.

Daar is maar een pad om van ons ellende bevry te word. As ons daardie paadjie nie inslaan nie, gaan ons onherroeplik verlore. Hierdie paadjie begin met ʼn konfronterende diagnose, ʼn hoë drumpel. Maar as jy by die paadjie wil uitkom wat na die lewe lei moet jy oor die drumpel treë.

Uit onsself wil ons nie oor die drumpel trap nie, wil ons nie ons ellende toegee nie. Maar die Heilige Gees druk ons oor die drumpel. (Joh 16:7-11) En elke Sondag weer, as ons die wet hoor, oortuig Hy ons van die noodsaak om hierdie smal weg, die enigste paadjie na die lewe, te bly volg.

Dit wys ons ons werklike toestand. Na my aard is ek daarop uit om God en my naaste te haat.

Dit wet openbaar dit, want die hoofsaak van die wet is dat ek juis lief moet wees vir God en my naaste. Met hierdie eerste stap, kennis van jou ellende, stoot die Heilige Gees ons na die tweede stap. (Joh 16:7-11) Dit dryf ons soektog na iemand wat ons kan genees, wat ons die ewige lewe kan teruggee. So dryf die wet jou na Christus toe, jou enigste troos in lewe en sterwe. Jou Heiland. Hy genees jou volkome van alle ellende, tot die diepste ellende toe. (Luk 1:76-79)

Broer, suster, luister na die Heilige Gees, as Hy tot jou spreek, deur die Bybel, deur die wet. Luister na Hom, as Hy jou oortuig van sonde. Bly by Christus en sy Woord, waarby die Gees jou wil bewaar. Bly by die weeklikse diagnose, met die voorlesing van die wet. Dit dryf jou na Christus, dit maak jy net soveel blyer en dankbaarder vir wat Hy vir jou gedoen het!

Kennis van jou ellende is die eerste stap na die ewige lewe. Dis die tema.

Ons wil van nature nie ons ellende ken nie. Maar die Heilige Gees lei ons lewe sodat ons dit erken. Die Heilige Gees kan dit doen deur ingrypende gebeurtenisse, deur ʼn ongeneeslike siekte, deur ʼn skouspelagtige genesing.

Dit gebeur egter nie met elkeen nie. Maar God is sy verbondsvolk genadig. Hy gee ons sy wet. En so werk die Heilige Gees met God se wet in jou, om jou te oortuig van jou ellende. Sondag na Sondag, dag na dag. So druk die Gees van Christus jou sodat jy hierdie eerste, hierdie noodsaaklike stap sit op pad na die ewige lewe.

Kennis, erkenning van jou ellende.

Welgeluksalig is elkeen wat sy eie ellende ken.

olieladmin

Leave a Reply

Your email address will not be published.